LIKWIDASIE OF BESIGHEIDSREDDING?

RGProk.png

In moeilike ekonomiese- en politieke omstandighede soos wat SA tans beleef, vind lede van beslote korporasies of direkteure van maatskappye dikwels dat die besigheid van die BK of die maatskappy nie meer die mas opkom nie.  Dit is dan wanneer die vraag oor likwidasie of sakeredding ter sprake kom en oorweeg moet word watter die beste opsie vir die maatskappy of BK is.

As die maatskappy of BK nie redelikerwys al sy skulde kan betaal soos en wanneer dit opeisbaar en betaalbaar raak in die volgende ses maande nie, of as dit redelikerwys blyk dat die maatskappy of BK in die volgende ses maande insolvent sal raak, rus die verpligting op die maatskappy of BK om te besluit of dit ‘n kandidaat vir sakeredding of andersins likwidasie is.

In ‘n sakeredding word ruimte aan ‘n maatskappy of BK gegee om in oorleg met alle belanghebbendes ‘n reddingsplan uit te werk in terme waarvan transaksies of kontrakte geherstruktureer of gekanselleer word om die maatskappy of BK se kontantvloei of skuldposisie te verbeter en sy normale handelsaktiwiteite voort te sit.  In oorleg met die krediteure word ‘n plan opgestel en is die Sakereddingspraktisyn verplig om die plan uit te voer.

Indien die plan misluk, sal die Sakereddingspraktisyn die maatskappy of BK in likwidasie plaas.

Indien dit duidelik is dat die maatskappy of BK in elk geval nie sy verpligtinge kan nakom nie en insolvent is, sal ‘n sakeredding nie die aangewese opsie wees nie en behoort die maatskappy of BK in likwidasie geplaas te word. Dikwels neem partye kortpaaie en dink dat likwidasie voorkom kan word deur die maatskappy of BK in sakeredding in plaas daarvan om dit te likwideer. As die maatskappy of BK nie van die begin ‘n goeie kans op redding het en daar nie ‘n haalbare plan is nie, mors die direkteure of lede net geld en tyd. Dit gaan eenvoudig nie werk nie.

Die groot verskil tussen sakeredding en likwidasie is dus dat in ‘n sakeredding ‘n plan uitgewerk word om die maatskappy se finansies en kontrakte te herstruktureer sodat dit finansieel oorleef en weer ‘n gesonde besigheid kan bedryf.  As die maatskappy se laste sy bates oorskry en insolvent is, is dit die verkeerde kandidaat vir ‘n sakeredding en behoort in likwidasie geplaas te word.

Sakeredding en likwidasie kan geïnisieer word deur ‘n spesiale besluit of deur ‘n hof¬aansoek na gelang van die geval.

Vir enige verdere inligting of advies met betrekking tot bogenoemde, kan u Danie Acker skakel by Rauch Gertenbach Prokureurs, Tel 044–6019900 of per e-pos by office@rgprok.co.za
 

Huweliksgoederebedeling die Erfreg en Diverse Aangeleenthede

Matrimonial Systems, the Law of Succession and Miscellaneous.png

Persone wat binne gemeenskap van goedere getroud is maak gereeld die opmerking by die opstel van `n testament:  “As hy/sy sterf dan erf ek alles”.   Alhoewel dit waar mag wees dat die langslewende alles kry is dit nie reg om te sê “ ek erf alles” nie.  Die gades van `n huwelik gesluit binne gemeenskap van goed is reeds die eienaar van die helfte van die boedel.  Die langslewende is dus die eienaar van die helfte van die boedel uit hoofde van die huweliksgoederebedeling binne gemeenskap van goed en erf nie die hele boedel nie.  

Anders gestel, erf die langslewende slegs die helfte van die boedel (die oorledene se helfte) want die ander helfte van die boedel behoort aan hom/haar.  Indien `n persoon intestaat (sonder `n testament) sterf behou die langslewende gade die helfte van die boedel as sy/haar eiendom en die ander helfte (oorledene se helfte) vererf intestaat na sy intestate erfgenaam.  

Die Wet op intestate Erfopvolging bepaal dat die langslewende gade erf `n bedrag gelykstaande aan R250000 of `n kindsdeel, welke een ook al die grootste mag wees.  As die helfte van die boedel R250 000 of kleiner is sal die langslewende gade die volle helfte van die oorledene se boedel erf.  As die helfte egter groter is as R250 000 raak dit meer ingewikkeld en moet `n kindsdeel bereken word en vergelyk word met R250 000.  
As die kindsdeel groter as R250 000 is erf die langslewende `n kindsdeel.  

As die kindsdeel kleiner as R250 000 is erf die langslewende R250 000.  Die res van die helfte van die oorledene se boedel word verdeel tussen sy ander intestate erfgename.

Indien persone getroud is buite gemeenskap van goedere met die aanwas van toepassing,  moet die aanwas eers bereken word.  Die persoon wat geregtig is op die aanwas se voordeel moet eers toegeken word alvorens die boedel van die oorledene afgehandel  kan word.  Die persoon wat die voordelige aanwas bekom, verkry dit uit hoofde van die huweliksgoederebedeling buite gemeenskap van goed ten opsigte waarvan die aanwasbedeling geld en erf dit nie. 

Die Huweliksvoorwaarde kontrak wat gesluit word by `n huweliksbedeling buite gemeenskap van goedere kan bepalings bevat wat direk verband kan hou met die bereddering van `n boedel.  Dit is ook nie ongewoon dat gades getroud buite gemeenskap saam eienaars is van bates en/of besighede soos byvoorbeeld vennootskappe en ander regsentiteite nie.  Hierdie is belangrike aspekte om te identifiseer om sorg te dra dat aan elke rolspeler se regmatige aansprake voldoen word.

Vir meer inligting kontak Barend Kruger by office@rgprok.co.za .
 

DIE VERKOOP VAN ‘N OORLEDENE SE HUIS

Niks in die lewe is verseker nie, behalwe “death and taxes” Dit kom dikwels in die praktyk voor dat ons hier by Rauch Gertenbach eiendom moet transporteer kragtens ‘n koopkontrak waar een van die partye oorlede is. Stel jouself voor, jy het ‘n aanbod op jou droomhuis ingesit en die eienaar het dit aanvaar. Jou verband is goedgekeur en jy het alreeds kennis aan jou verhuurder gegee dat jy uittrek aan die einde van die maand. Tot jou skok verneem jy nou vanaf die transportprokureurs dat die verkoper in ‘n frats motorongeluk oor die naweek oorlede is. Hoe nou gemaak?

Eerstens is dit belangrik om te verstaan dat die feit dat die verkoper/eienaar nou oorlede is nie die die koopkontrak ongeldig maak nie en die koopkontrak verval ook nie indien hy dit voor sy afsterwe geteken het nie. Inteendeel, daar is nog steeds ‘n geldige, afdwingbare ooreenkoms in plek en is jy as koper nog steeds geregtig op transport van die eiendom in jou naam.

Die Wet vereis dat die Meester van die Hooggeregshof ‘n eksekuteur moet aanstel wie namens die oorledene transport kan gee. In praktyk beteken dit dat die oorledene se boedel gerapporteer moet word by die relevante Meesterskantoor en met ontvangs van die eksekuteursbrief, kan die daarin aangestelde eksekuteur die nodige transportdokumente teken om transport te laat geskied. Hierdie proses kan enige iets van ‘n maand tot etlike maande duur afhangend van die relevante Meesterskantoor.
Daar moet onderskeid getref word tussen of die koopkontrak deur die verkoper aangegaan is gedurende sy leeftyd en of dit deur die eksekuteur geteken is na die verkoper se afsterwe. Indien die koopkontrak deur die eksekuteur geteken is, vereis die Wet verder dat die relevante Meester moet toestem tot die verkoop van die eiendom asook al die oorledene se erfgename wat skriftelik moet toestem tot die verkoop. Hierdie proses kan weereens enigiets vanaf ‘n maand tot etlike maande neem.

Daar moet in gedagte gehou word dat Hereregte sal steeds betaalbaar wees nieteenstaande die feit dat die verkoper oorlede is. Kopers moet daarop let dat die koop van vaste eiendom ‘n invloed op sy testament sal hê. Ons kantoor sal u met graagte behulpsaam wees met advies en hulp om u testament op te stel of te wysig.
Kontak gerus Paul Delport of Jaco Fourie by 044 601 9900 of office@rgprok.co.za vir enige verdere inligting.