Konstitusionele Hof gee erkenning aan langslewende gades in Moslem huwelike

RGPROK-FB.jpg

In Suid-Afrika  word sekere gevolge van die Moslemhuwelike, gesluit volgens die Islamitiese reg, deur regspraak en wetgewing erken.  Die huwelik as instelling word nie erken nie hoofsaaklik as gevolg van die potensiële poligene aard daarvan.  Die status van die Moslemvrou is ‘n bron van groot kommer vir diverse belangegroepe aangesien haar posisie in die Moslemhuwelik as diskriminerend getipeer kan word.  Die gebrek aan erkenning van die Moslemhuwelik het die vrou weerloos gelaat binne die Suid-Afrikaanse regstelsel.

Huidig maak die Suid-Afrikaanse regstelsel slegs voorsiening vir die formele registrasie van ‘n huwelik gesluit en geregistreer in terme van die Huwelikswet 25 van 1961, die Civil Union Act 17 van 2006 en die Wet op die Erkenning van Gebruiklike verbintenisse, 130 van 1998.  Geen voorsiening  word gemaak vir die registrasie van ‘n Moslemhuwelik nie.

‘n Langslewende gade in ‘n Moslemhuwelik was voorheen nie ingesluit by die definisie van ‘n “langslewende gade” vir doeleindes van die voordele waarop langslewende gades in terme van die Wet op Testamente 7 van 1953 geregtig is nie.

Die stryd van gades in Moslemhuwelike is egter onlangs erken deur die Hoë Hof van Suid-Afrika en bevestig deur die Konstitusionele Hof in die saak van Moosa and Others v Minister of Justice and Correctional Services and Others 2018 [2018] ZACC 19 (29 Junie 2018).

In hierdie saak was die oorledene in terme van die Islamitiese reg getroud met twee vroue, die tweede en derde applikant.  Die oorledene is in 1957 getroud met die tweede applikant, gevolg deur die huwelik met die derde applikant in 1964.

Ten einde te kwalifiseer vir ‘n huisverband het die oorledene in 1982, met die toestemming van die derde applikant, sy huwelik met die tweede applikant geregistreer in terme van die Suid-Afrikaanse reg.

Die oorledene het daarna saam met beide sy vroue en van hul 9 kinders in die huis gewoon tot en met sy afsterwe in 2014.  Met sy afsterwe het die oorledene se kinders afstand gedoen van die voordele/bemakings in terme van sy testament.  In hierdie geval het die “langslewende gade” in terme van Arikel 2C(1) van die Wet op Testamente geregtig  geword op die voordele waarvan die kinders afstand gedoen het.

As gevolg van die Aktekantoor se eng interpretasie van die bewoording “langslewende gade” het hulle  geweier om die oorledene se aandeel in die vaste eiendom aan die derde applikant oor te dra.

Hierdie optrede het inbreuk gemaak op die derde applikant  se reg op gelyke behandeling en menswaardigheid in terme van die Grondwet van Suid-Afrika.  Die Konstitusionele hof het bevind dat Arikel 2C(1) onbillik diskrimineer  teen haar op grond van haar geloof en huwelikstatus deur haar nie as ‘n “langslewende gade” te erken nie.  Die hof het derhalwe  die applikante se aansoek toegestaan en beveel dat elke man of vrou binne ‘n monogame en/of poligene Moslemhuwelik gesluit kragtens die Islamitiese reg ingesluit sal wees by die definisie van “langslewende gade” vir doeleindes van artikel 2C(1) van die Wet op Testamente.

Artikel deur Kelly Fourie-Barnard, Hoof van die Boedelafdeling by Rauch Gertenbach Prokureurs. Kontak ons gerus vir verdere inligting by office@rgprok.co.za of www.rgprok.co.za .

 

IS U VUURWAPEN WETTIG?

gun-pistol-revolver-bullet-kill-death-shoot-dangerous-weapon-criminal-violence-illegal-crime-1024x684.jpg

Die Grondwetlike Hof het verlede week uitspraak gelewer in die hofsaak tussen die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (”die SAJWV”) en die Minister van Veiligheid en Sekuriteit (“die Minister”) wat gehandel het oor vuurwapenlisensies. Die Minister se appèl is gehandhaaf en die oorspronklike Hooggeregshof uitspraak is omgekeer.

Die gevolg van die uitspraak is dat vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het, en waarvoor nie betyds aansoek gedoen is vir hernuwing nie, onwettig is en dat die eienaar krimineel vervolg kan word. Sodanige wapen kan nie weer geldig gelisensieër word nie en moet by die Minister ingehandig word. Volgens regulasies in die Wet het die Minister die reg om te besluit of kompensasie toegestaan word en is die huidige kompensasie R500 vir ‘n handwapen en R1000 vir ‘n geweer. Dit is te betwyfel of die Minister bereid sal wees om te betaal en of so ‘n eis sal slaag.

Dit bly egter ‘n ope vraag of die ou groen lisensies kon verval. Die Minister is van mening dat dit het, maar daar is geen statutêre bepaling wat hulle standpunt steun nie. As ‘n persoon ‘n groen en nuwe lisensie gehad het, het hy twee geldige lisensies gehad. As die nuwe lisensie verval het, is ons van mening dat so eienaar ‘n geldige verweer teen ‘n kriminele klag sal hê.

In terme van voorlopige inligting oorweeg die Minister amnestie teen vervolging vir ‘n paar maande. Amnestie moet deur die Parlement goedgekeur word, maar die aansoek is blykbaar nog nie daar ingedien nie. Indien amnestie wel goedgekeur word, sal onwettige wapens ingehandig kan word en sal die eienaar nie vervolg word nie. Die wapen sal getoets word en indien die wapen met misdaad verbind word, sal vervolging vir die betrokke misdaad ingestel kan word, maar nie vir die onwettige besit van die wapen nie.

Dit is tans onseker of ‘n eienaar in besit van ‘n onwettige vuurwapen aansoek sal kan doen vir ‘n nuwe lisensie vir die wapen wat ingehandig is onder die amnestie. Dit is te betwyfel of die Minister bereid sal wees om dit toe te laat en maak die Wet of die Hof se uitspraak nie daarvoor voorsiening nie.

Die gevolg van die Hof se uitspraak is dus dat enige vuurwapen waarvan die lisensie verval het, by die polisie ingehandig moet word. Waar hulle dit gaan bewaar en hoe die polisie die volume gaan hanteer is onseker, maar sal die wapen uiteindelik vernietig word.

Belange organisasies soos SAJWV is tans in gesprek met die Minister oor die pad vorentoe en om sinvolle oplossings te probeer kry vir die onsekerheid wat die Hof se uitspraak nou veroorsaak het. Dit wil voorkom asof die Minister bereid is om deel te neem aan gesprekke en om oplossings te vind. Sekere politieke partye neem ook deel en die VF+ het aangedui dat hulle deur ‘n mosie van privaat lede gaan voorstel om die Wet te wysig en sodoende die probleem aan te spreek.

Die Minister het sy sin gekry. Of hulle die vermoë het om uit te voer waarvoor hulle gevra het, sal gesien moet word. Wat belangrik is, is egter dat eienaars betyds (90 dae voor die vervaldatum) moet aansoek doen vir die hernuwing van hulle vuurwapenlisensies.

Artikel deur Danie Acker. Vir enige verdere inligting of navrae, kontak gerus Ferdi Scheepers by 083 772 2777 of per e-pos by office@rgprok.co.za .

 

HUUR VAN EIENDOM? KEN JOU REGTE

Baie mense besit deesdae nie eiendom as gevolg van finansiële redes, deurdat hulle nie vir ‘n verband kwalifiseer nie of as gevolg van werk-verplasing wat dit onprakties maak om 'n huis te koop. Die gevolg is dat meer en meer mense eiendom huur, wat dus 'n kontrak tussen die verhuurder en die huurder tot gevolg het.

Hierdie kontrak kan mondelings wees, tensy enige van die huurder of die verhuurder versoek om die ooreenkoms op skrif te stel. 'n Skriftelike kontrak is die veiligste roete om te volg, aangesien dit die bepalings en voorwaardes waarop die eiendom beset word, uiteensit. Dit elimineer ook moontlike misverstande wat tussen die partye mag voorkom, en verminder sodoende onnodige dispute en duur litigasie.

Algemene geskille wat kan ontstaan, is:
1. Nie-betaling van huurgeld;
2. Stiptelikheid van huurbetalings;
3. Betaling van munisipale fooie ens .;
4. Wie is verantwoordelik vir sekere instandhouding op die eiendom;
5. Vervaldatum / beëindiging van die kontrak;
6. Kansellasie in gevalle van kontrakbreuk deur enige party;
7. Kennisgewingperiodes.

Deur hierdie baie belangrike bepalings op skrif te stel, bind dit beide partye en gee dit hulle duidelike riglyne om te volg indien hulle van hul regte wil uitoefen.

'n Probleem wat dikwels vir verhuurders ontstaan is in gevalle waar 'n huurder wat versuim om sy huur te betaal, 'n entiteit is soos 'n maatskappy of beslote korporasie wat die ooreenkoms aangegaan het. Hierdie entiteite is dikwels slegs ‘n dop en selfs al word 'n vonnis teen so 'n versuimende huurder vir agterstallige huurgeld verkry, het die verhuurder geen sukses wanneer die lasbrief vir beslaglegging via die balju uitgevoer word nie, omdat die entiteit dikwels geen bates het nie. Dit is dus van uiterste belang dat die verteenwoordiger / s van die entiteit as mede-huurders by die kontrak teken. Dit sal die verhuurder geregtig maak om op te tree teen al die ondertekenaars van die huurooreenkoms en dus sal lei tot 'n veel groter kans om agterstallige huurgeld of skadevergoeding te verhaal.

Dit is ook belangrik dat 'n volledige lys van defekte saamgestel en onderteken word deur alle partye binne die eerste paar dae na okkupasie van die perseel. Dit sal verseker dat die partye, sodra die kontrak beëindig word, weer die eiendom saam kan inspekteer en 'n lys van defekte kan opstel en die deposito gebruik om die gebreke reg te stel, indien nodig.

Laastens is dit 'n goeie idee om die huurder se toestemming te verkry om 'n agtergrond- en kredietsoektog te doen voordat u die huurkontrak aangaan, om soedoende te verseker dat die huurder die finansiële middele het om die huurverpligtinge van die kontrak te nakom.

Deur die bogenoemde basiese beginsels te oorweeg en te implementeer, behoort die huur van 'n eiendom 'n baie groter kans te staan om 'n positiewe ervaring vir beide verhuurder en huurder te wees.

Vir meer inligting of enige navrae, kontak Van Niekerk Steyn van Rauch Gertenbach Prokureurs Ing. by 044 601 9900 of office@rgprok.co.za.