RGPROK-FB-POST-CRYPTO-CURRENCY.jpg

As jy mooi daaroor dink, was dit onvermydelik dat virtuele geld en digitale geldeenhede hul pad in ons alledaagse lewe sou vind. Ons het dan immers virtuele vriende danksy sosiale media en virtuele winkelsentrums danksy aanlyn-kleinhandelaars….

Kripto-geldeenhede vorm deel van u digitale bates. In teenstelling met ander digitale bates soos sosiale media-profiele, het dit ‘n geldwaarde. Indien jy nie jou erfgename dienooreenkomstig ingelig het nie, sal hulle nie bewus wees dat jy oor hierdie bate beskik nie. Kripto-geldeenhede is wonderlik as jy van plan is om jou rykdom onder die radar te hou, maar wat sal gebeur indien jy onverwags sterf en jou erfgename is nie daaroor ingelig nie?

Indien jou erfgename wel van jou kriptogeld weet, sal hul nogsteeds nie sonder jou aantekenbesonderhede toegang tot dit kan verkry nie. Dit is dus van kardinale belang dat jy jou prokureur en/of boedelbeplanner van hierdie inligting voorsien. Dit sal hulle in staat stel om u boedel dienooreenkomstig te beredder, asook die proses te vergemaklik.

Kriptogeld word as ‘n bate in jou boedel beskou, daarom is dit onderhewig aan eksekuteursvergoeding, asook boedelbelasting.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het verklaar dat kriptogeldtransaksies aan die algemene beginsels van ons belastingreg onderhewig is. Dus kan enige inkomste wat ontvang word, en/of winste of verliese wat aangegaan is, as inkomste van aard gesien word en by die belastingpligtige se inkomstebelasting of kapitaal ingesluit wees. Dit kan moontlik ook onderhewig wees aan kapitaalwinsbelasting en is in die belastingbetaler se hande belasbaar.

Die eksekuteur van u boedel sal die geldwaarde van u kriptogeld moet bepaal. Hulle sal moet vasstel in watter kriptogeldeenheid u belê het, asook die hoeveelheid daarvan. Sodra hy hierdie inligting het sal dit hom help om die waarde daarvan te bereken. Die eksekuteur word in ‘n baie moeilike posisie geplaas as gevolg van die feit dat die kripto-wisselkoers gereeld verander. Die waarde van die kriptogeld hang dus van die kripto-wisselkoers daardie dag af.

Een van die mees doeltreffende maniere om u digitale bates aan u begunstigdes oor te dra is om die oordrag self ‘n digitale proses te maak. Daar is verskeie maniere om dit te bewerkstellig. Een opsie is vir verskeie handtekeningstransaksies. In Bitcoin staan dit bekend as M-of-N transaksies. Hierdie proses vereis dat ‘n minimum aantal handtekeninge benodig word uit die aantal moontlike handtekeninge wat u verskaf het. Hierdie ondertekenaars kan byvoorbeeld die erfgename sowel as die genomineerde eksekuteur van jou boedel wees.

Nog ‘n opsie is om te bepaal dat ‘n sekere gebeurtenis die oordrag aktiveer. Bitcoin noem dit die Dead Man’s Switch metode. Hierdie metode gebruik ‘n rekenaargegenereerde program om gereelde eposse aan u te stuur. Indien u nie op hierdie eposse reageer nie, sal die rekenaar outomaties na ‘n databasis gaan om ‘n moontlike sterftesertifikaat te soek. Indien daar wél een is, sal die oordrag outomaties plaasvind.

‘n Laaste opsie is om ‘n Slimkontrak te gebruik. Hierdie kontrak staan ook bekend as Lock Time Transactions. Dit vereis dat u ‘n spesifieke tyd identifiseer waarop die oordrag van die bate moet plaasvind. U moet dan deurlopend die datum uitstel. Na u afsterwe sal die bate oorgedra word op die datum wat laaste gespesifiseer was.

Daar is geen twyfel dat kriptogeld vir baie mense van groot waarde is nie, maar dit is ook baie belangrik dat indien jy besluit om in digitale geldeenhede te belê, jy moet oorweeg wat daarmee moet gebeur wanneer jy afsterf. Hierdie oorweging sluit in die verkryging van regsadvies oor hoe om jou bates te bestuur en hoe dit na jou afsterwe na jou begunstigdes oorgedra moet word.

Rauch Gertenbach is toegewyd en gereed om jou en jou geliefdes te help om te verseker dat hierdie ‘n stresvrye proses is.

Artikel geskryf deur Ankia Botha.

Kontak gerus een van die spesialiste in ons Boedelafdeling sou u enige hulp hiermee verlang by 044 601 9900 of office@rgprok.co.za