Konstitusionele Hof gee erkenning aan langslewende gades in Moslem huwelike


RGPROK-FB.jpg

In Suid-Afrika  word sekere gevolge van die Moslemhuwelike, gesluit volgens die Islamitiese reg, deur regspraak en wetgewing erken.  Die huwelik as instelling word nie erken nie hoofsaaklik as gevolg van die potensiële poligene aard daarvan.  Die status van die Moslemvrou is ‘n bron van groot kommer vir diverse belangegroepe aangesien haar posisie in die Moslemhuwelik as diskriminerend getipeer kan word.  Die gebrek aan erkenning van die Moslemhuwelik het die vrou weerloos gelaat binne die Suid-Afrikaanse regstelsel.

Huidig maak die Suid-Afrikaanse regstelsel slegs voorsiening vir die formele registrasie van ‘n huwelik gesluit en geregistreer in terme van die Huwelikswet 25 van 1961, die Civil Union Act 17 van 2006 en die Wet op die Erkenning van Gebruiklike verbintenisse, 130 van 1998.  Geen voorsiening  word gemaak vir die registrasie van ‘n Moslemhuwelik nie.

‘n Langslewende gade in ‘n Moslemhuwelik was voorheen nie ingesluit by die definisie van ‘n “langslewende gade” vir doeleindes van die voordele waarop langslewende gades in terme van die Wet op Testamente 7 van 1953 geregtig is nie.

Die stryd van gades in Moslemhuwelike is egter onlangs erken deur die Hoë Hof van Suid-Afrika en bevestig deur die Konstitusionele Hof in die saak van Moosa and Others v Minister of Justice and Correctional Services and Others 2018 [2018] ZACC 19 (29 Junie 2018).

In hierdie saak was die oorledene in terme van die Islamitiese reg getroud met twee vroue, die tweede en derde applikant.  Die oorledene is in 1957 getroud met die tweede applikant, gevolg deur die huwelik met die derde applikant in 1964.

Ten einde te kwalifiseer vir ‘n huisverband het die oorledene in 1982, met die toestemming van die derde applikant, sy huwelik met die tweede applikant geregistreer in terme van die Suid-Afrikaanse reg.

Die oorledene het daarna saam met beide sy vroue en van hul 9 kinders in die huis gewoon tot en met sy afsterwe in 2014.  Met sy afsterwe het die oorledene se kinders afstand gedoen van die voordele/bemakings in terme van sy testament.  In hierdie geval het die “langslewende gade” in terme van Arikel 2C(1) van die Wet op Testamente geregtig  geword op die voordele waarvan die kinders afstand gedoen het.

As gevolg van die Aktekantoor se eng interpretasie van die bewoording “langslewende gade” het hulle  geweier om die oorledene se aandeel in die vaste eiendom aan die derde applikant oor te dra.

Hierdie optrede het inbreuk gemaak op die derde applikant  se reg op gelyke behandeling en menswaardigheid in terme van die Grondwet van Suid-Afrika.  Die Konstitusionele hof het bevind dat Arikel 2C(1) onbillik diskrimineer  teen haar op grond van haar geloof en huwelikstatus deur haar nie as ‘n “langslewende gade” te erken nie.  Die hof het derhalwe  die applikante se aansoek toegestaan en beveel dat elke man of vrou binne ‘n monogame en/of poligene Moslemhuwelik gesluit kragtens die Islamitiese reg ingesluit sal wees by die definisie van “langslewende gade” vir doeleindes van artikel 2C(1) van die Wet op Testamente.

Artikel deur Kelly Fourie-Barnard, Hoof van die Boedelafdeling by Rauch Gertenbach Prokureurs. Kontak ons gerus vir verdere inligting by office@rgprok.co.za of www.rgprok.co.za .