“NUWE”/”OU” REGSASPEK TEN OPSIGTE VAN DIE AANWASBEDELING

RGPROK-Marriage.jpg

In twee onlangse hofbeslissings, in onderskeidelik die Hoogste Hof van Appèl en die Hoë Hof, Wes-Kaap, is belangrike aspekte ten opsigte van die huwelik buite gemeenskap van goed waarop die aanwasbedeling van toepassing is, oorweeg.

In die aangeleentheid tussen ST v CT bevestig die Hoogste Hof van Appèl die onderskeid tussen die gestipuleerde aanvangswaarde van die onderskeie partye se boedels wanneer die huwelik ‘n aanvang neem en die lys van bates wat uitgesluit word by die berekening van die aanwas by ontbinding van die huwelik.  

Dit is geykte reg dat die pensioenbelang van ‘n gade vir doeleindes van die berekening van die aanwas in ag geneem word.  Die vraagstuk voor die Hof was of ‘n gade se lewende annuïteit as ‘n bate oorweeg kan word om die aanwas te bereken.   Die Hof tref ‘n duidelike onderskeid tussen ‘n gade wat lid is van ‘n pensioenfonds en ‘n gade wat ‘n lewende annuïteit uitgeneem het by ‘n versekeringsmaatskappy.  In Artikel 37A – 37D van die Wet op Pensioenfondse en Artikel 7(7) – 7(8) van die Wet op Egskeidings, word die aanspraak van ‘n gade op die pensioenbelang van die ander gade erken.  

Die Hof wys daarop dat in die geval van ‘n lewende annuïteit, vestig die kapitaal in die versekeringsmaatskappy en die vorderingsreg waaroor die gade beskik om ‘n paaiement te vorder van die versekeringsmaatskappy, is afhanklik van die feit dat hy moes gelewe het toe die paaiement verskuldig raak en indien hy nie meer lewe nie, word die lot van die kapitaal bepaal aan die hand van die vraagstuk of hy ‘n begunstigde aangewys het of nie.  Indien die gade gesterf het voordat die paaiement gevorder kon word, sal die voordeel in terme van die lewende annuïteit uitbetaal aan sy genomineerde (as ‘n genomineerde aangewys is) en indien daar nie ‘n genomineerde is nie, word die voordeel uitbetaal na sy bestorwe boedel.  Die Hof beveel dat ‘n lewende annuïteit nie by die berekening van die aanwas in aanmerking geneem word waar die huwelik ontbind word deur ‘n egskeiding nie.  Skrywer is van oordeel dat die kapitale waarde van ‘n lewende annuïteit wel in ag geneem kan word by die berekening van die aanwas indien een van die gades gesterf het.  

In TN v NN het die Wes-Kaapse Hoë Hof verskillende botsende beslissings in ander howe ten opsigte van die bepalings van Artikel 6(3) van die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 oorweeg.  Die Hof bevind dat die aanvangswaarde(s) van gades se boedels soos uiteengesit in ‘n huweliksvoorwaarde kontrak en/of sertifikaat slegs prima facie bewys van daardie waardes is.   Gades, sowel as derdes wat ‘n belang by die bepaling van die waardes het, kan getuienis aanbied om die korrekte waardes aan te dui.  

Artikel deur Barend Kruger.

Vir verdere kommentaar of inligting, kontak gerus Barend Kruger, Van Niekerk Steyn of Pieter van der Merwe (George kantoor) by Rauch Gertenbach Prokureurs Ing. 044 601-9900 of  office@rgprok.co.za

Konstitusionele Hof gee erkenning aan langslewende gades in Moslem huwelike

RGPROK-FB.jpg

In Suid-Afrika  word sekere gevolge van die Moslemhuwelike, gesluit volgens die Islamitiese reg, deur regspraak en wetgewing erken.  Die huwelik as instelling word nie erken nie hoofsaaklik as gevolg van die potensiële poligene aard daarvan.  Die status van die Moslemvrou is ‘n bron van groot kommer vir diverse belangegroepe aangesien haar posisie in die Moslemhuwelik as diskriminerend getipeer kan word.  Die gebrek aan erkenning van die Moslemhuwelik het die vrou weerloos gelaat binne die Suid-Afrikaanse regstelsel.

Huidig maak die Suid-Afrikaanse regstelsel slegs voorsiening vir die formele registrasie van ‘n huwelik gesluit en geregistreer in terme van die Huwelikswet 25 van 1961, die Civil Union Act 17 van 2006 en die Wet op die Erkenning van Gebruiklike verbintenisse, 130 van 1998.  Geen voorsiening  word gemaak vir die registrasie van ‘n Moslemhuwelik nie.

‘n Langslewende gade in ‘n Moslemhuwelik was voorheen nie ingesluit by die definisie van ‘n “langslewende gade” vir doeleindes van die voordele waarop langslewende gades in terme van die Wet op Testamente 7 van 1953 geregtig is nie.

Die stryd van gades in Moslemhuwelike is egter onlangs erken deur die Hoë Hof van Suid-Afrika en bevestig deur die Konstitusionele Hof in die saak van Moosa and Others v Minister of Justice and Correctional Services and Others 2018 [2018] ZACC 19 (29 Junie 2018).

In hierdie saak was die oorledene in terme van die Islamitiese reg getroud met twee vroue, die tweede en derde applikant.  Die oorledene is in 1957 getroud met die tweede applikant, gevolg deur die huwelik met die derde applikant in 1964.

Ten einde te kwalifiseer vir ‘n huisverband het die oorledene in 1982, met die toestemming van die derde applikant, sy huwelik met die tweede applikant geregistreer in terme van die Suid-Afrikaanse reg.

Die oorledene het daarna saam met beide sy vroue en van hul 9 kinders in die huis gewoon tot en met sy afsterwe in 2014.  Met sy afsterwe het die oorledene se kinders afstand gedoen van die voordele/bemakings in terme van sy testament.  In hierdie geval het die “langslewende gade” in terme van Arikel 2C(1) van die Wet op Testamente geregtig  geword op die voordele waarvan die kinders afstand gedoen het.

As gevolg van die Aktekantoor se eng interpretasie van die bewoording “langslewende gade” het hulle  geweier om die oorledene se aandeel in die vaste eiendom aan die derde applikant oor te dra.

Hierdie optrede het inbreuk gemaak op die derde applikant  se reg op gelyke behandeling en menswaardigheid in terme van die Grondwet van Suid-Afrika.  Die Konstitusionele hof het bevind dat Arikel 2C(1) onbillik diskrimineer  teen haar op grond van haar geloof en huwelikstatus deur haar nie as ‘n “langslewende gade” te erken nie.  Die hof het derhalwe  die applikante se aansoek toegestaan en beveel dat elke man of vrou binne ‘n monogame en/of poligene Moslemhuwelik gesluit kragtens die Islamitiese reg ingesluit sal wees by die definisie van “langslewende gade” vir doeleindes van artikel 2C(1) van die Wet op Testamente.

Artikel deur Kelly Fourie-Barnard, Hoof van die Boedelafdeling by Rauch Gertenbach Prokureurs. Kontak ons gerus vir verdere inligting by office@rgprok.co.za of www.rgprok.co.za .

 

IS U VUURWAPEN WETTIG?

gun-pistol-revolver-bullet-kill-death-shoot-dangerous-weapon-criminal-violence-illegal-crime-1024x684.jpg

Die Grondwetlike Hof het verlede week uitspraak gelewer in die hofsaak tussen die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (”die SAJWV”) en die Minister van Veiligheid en Sekuriteit (“die Minister”) wat gehandel het oor vuurwapenlisensies. Die Minister se appèl is gehandhaaf en die oorspronklike Hooggeregshof uitspraak is omgekeer.

Die gevolg van die uitspraak is dat vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het, en waarvoor nie betyds aansoek gedoen is vir hernuwing nie, onwettig is en dat die eienaar krimineel vervolg kan word. Sodanige wapen kan nie weer geldig gelisensieër word nie en moet by die Minister ingehandig word. Volgens regulasies in die Wet het die Minister die reg om te besluit of kompensasie toegestaan word en is die huidige kompensasie R500 vir ‘n handwapen en R1000 vir ‘n geweer. Dit is te betwyfel of die Minister bereid sal wees om te betaal en of so ‘n eis sal slaag.

Dit bly egter ‘n ope vraag of die ou groen lisensies kon verval. Die Minister is van mening dat dit het, maar daar is geen statutêre bepaling wat hulle standpunt steun nie. As ‘n persoon ‘n groen en nuwe lisensie gehad het, het hy twee geldige lisensies gehad. As die nuwe lisensie verval het, is ons van mening dat so eienaar ‘n geldige verweer teen ‘n kriminele klag sal hê.

In terme van voorlopige inligting oorweeg die Minister amnestie teen vervolging vir ‘n paar maande. Amnestie moet deur die Parlement goedgekeur word, maar die aansoek is blykbaar nog nie daar ingedien nie. Indien amnestie wel goedgekeur word, sal onwettige wapens ingehandig kan word en sal die eienaar nie vervolg word nie. Die wapen sal getoets word en indien die wapen met misdaad verbind word, sal vervolging vir die betrokke misdaad ingestel kan word, maar nie vir die onwettige besit van die wapen nie.

Dit is tans onseker of ‘n eienaar in besit van ‘n onwettige vuurwapen aansoek sal kan doen vir ‘n nuwe lisensie vir die wapen wat ingehandig is onder die amnestie. Dit is te betwyfel of die Minister bereid sal wees om dit toe te laat en maak die Wet of die Hof se uitspraak nie daarvoor voorsiening nie.

Die gevolg van die Hof se uitspraak is dus dat enige vuurwapen waarvan die lisensie verval het, by die polisie ingehandig moet word. Waar hulle dit gaan bewaar en hoe die polisie die volume gaan hanteer is onseker, maar sal die wapen uiteindelik vernietig word.

Belange organisasies soos SAJWV is tans in gesprek met die Minister oor die pad vorentoe en om sinvolle oplossings te probeer kry vir die onsekerheid wat die Hof se uitspraak nou veroorsaak het. Dit wil voorkom asof die Minister bereid is om deel te neem aan gesprekke en om oplossings te vind. Sekere politieke partye neem ook deel en die VF+ het aangedui dat hulle deur ‘n mosie van privaat lede gaan voorstel om die Wet te wysig en sodoende die probleem aan te spreek.

Die Minister het sy sin gekry. Of hulle die vermoë het om uit te voer waarvoor hulle gevra het, sal gesien moet word. Wat belangrik is, is egter dat eienaars betyds (90 dae voor die vervaldatum) moet aansoek doen vir die hernuwing van hulle vuurwapenlisensies.

Artikel deur Danie Acker. Vir enige verdere inligting of navrae, kontak gerus Ferdi Scheepers by 083 772 2777 of per e-pos by office@rgprok.co.za .