KONTROLE-LYS BY DIE AANKOOP VAN ‘N EERSTE EIENDOM

Politieke onsekerheid en ekonomiese onstabiliteit het groei in die Suid-Afrikaanse eiendomsmark beperk, maar dit bly steeds een van die veiligste beleggings wat ‘n mens in jou leeftyd kan maak. En volgens kenners, is dit nou ‘n baie goeie tyd om so ‘n belegging in die Tuinroete te maak.

Om eiendom te koop, kan egter ontaard in ‘n baie gekompliseerde en intimiderende proses, veral as dit jou eerste keer is. Hier is ‘n handige lys van vrae wat jy moet vra wanneer jy dit oorweeg om ‘n eiendom te koop.

Voordat jy begin rondkyk:

  • Doen navraag by jou bank ten einde die verbandbedrag waarvoor jy kwalifiseer te bepaal. Dit spaar baie tyd as jy van die begin af eiendomme uitskakel wat jy nie kan bekostig nie.
  •  
  • Neem erfbelasting en heffings (indien van toepassing) en onderhoud op die eiendom ook in aanmerking wanneer jy na bekostigbaarheid kyk.
  •  
  • Kry ‘n kwotasie by ‘n prokureur vir transport- en verbandregistrasiekostes vir die bedrag wat jy beoog om te spandeer. Onthou dat jy hierdie fondse gaan benodig voor registrasie van die eiendom in jou naam.
  •  

Wanneer jy ‘n eiendom geïdentifiseer het:

  • Het die agent/agentskap getrouheidsfonds sertifikate van die EAAB? Het die agentskap ‘n goeie reputasie?
  •  
  • Is die eiendom se prys markverwant? Doen navraag oor die Munisipale waardasie en onlangse pryse van eiendomme in die area.
  •  
  • Hoe lank is die eiendom in die mark en is die prys onderhandelbaar?
  •  
  • Is daar onlangs enige groot veranderinge of verbeteringe aangebring? Indien wel, is die planne opgedateer?
  •  
  • Is daar inderdaad goedgekeurde planne vir al die strukture op die erf? Maak seker hierdie aangeleentheid word in die koopkontrak aangespreek.
  •  
  • Wat presies is ingesluit by die verkoop (dink aan stowe, kandelare, swembadpompe) – dis beter dat alles wat verwyder word, gedokumenteer word in die koopkontrak.
  •  
  • Is daar enige defekte? Indien die Verkoper bewus is van sodanige defekte moet dit in die koopkontrak geopenbaar word.
  •  
  • Het die Verkoper enige besware teen ‘n eiendomsinspeksie deur ‘n gekwalifiseerde bou-inspekteur? Hoewel dit heel waarskynlik ekstra kostes vir die Koper gaan meebring, kan hierdie tipe inspeksie baie bydra tot die gemoedsrus van die Koper. Die aankoop van ‘n eiendom is immers een van die grootste uitgawes wat jy in jou leeftyd aangaan.
  •  
  • Wanneer beoog die verkopers om die eiendom te ontruim? Maak seker die okkupasiehuur is markverwant.
  •  
  • Vra pertinent of daar probleme met die bure of geraasstoornisse is.
  •  
  • Dring aan op ‘n vars elektriese- en kewer sertifikaat, asook gassertifikaat indien van toepassing.
  •  
  • Maak seker jy verstaan die koopkontrak en al die klousules daarin. Win eerder professionele hulp in as die agent nie kan help nie of indien daar enige onsekerhede is.

Vir verdere inliging hieroor of enige ander eiendomsverwante kwessies, kontak gerus vir Maryke Landman by Rauch Gertenbach Ing in George of Jaco Fourie en Paul Delport in Mosselbaai by 044 601 9900.

0

Related Posts

HOE VERLOOP DIE PROSES…

Die administrasie van 'n bestorwe boedel geskied binne die raamwerk en in ooreenstemming met die Boedelwet 66 van 1965. Dit behels 'n groot hoeveelheid gedetailleerde administratiewe werk. Die doel van…
Read more