WHATSAPP BOODSKAPPE WAT JOU MOONTLIK ‘N BOETE OF TRONKSTRAF OP DIE HALS KAN HAAL

WHATSAPP BOODSKAPPE WAT JOU MOONTLIK ‘N BOETE OF TRONKSTRAF OP DIE HALS KAN HAAL

Met die ontwikkeling van die internet en sosiale media oor die afgelope 20 jaar, het dit nie net teweeg gebring dat ons 24 uur per dag toegang het tot die internet en sosiale media nie, dit het ons ook kwesbaar gemaak vir kuberaanvalle.

Suid Afrika, soos baie ander lande was vir baie jare kwesbaar vir kuberaanvalle omdat daar geen wetgewing in plek was om indiviude of instansies teen aanvalle te beskerm nie. Suid Afrika het reeds sedert 2017 gepoog om wetgewing te ontwikkel wat gepas sal wees vir ons unieke sosialemedia-klimaat.

Met die Wetsontwerp op Kubermisdaad wat onlangs deur President Cyril Ramaphosa onderteken is, het Suid-Afrika, die volgende stap geneem om hul inwoners teen hierdie groeiende misdaad te beskerm. Hierdie Wetsontwerp sluit nouliks aan by die Wet op die Beskerming van Persoonlike inligting (beter bekend as POPIA Protection of Private Information Act), om effek te gee aan die reg tot privaatheid teen die onwettige prosessering van persoonlike inligting.

Die Wetsontwerp fokus hoofsaaklik op die openbaarmaking van skadelike data boodskappe en / of die stuur daarvan op sosiale media, veral WhatsApp. Die Wetsontwerp het nie net ‘n invloed op individue nie, maar ook op verskaffers van elektroniese dienste en finansiële instellings wat ernstig deur die nuwe wetgewing geraak word. Die Wetsontwerp plaas ‘n plig op hierdie instansies om enige misdaad waarvan hulle bewus raak te rapporteer en selfs die data wat met die misdaad verband hou aan die betrokke liggame te oorhandig. Indien die instansies hul plig versuim is hulle onderworpe aan ‘n hewige boete van tot R50 000.

Die wetgewing skep spesifiek misdade en kriminaliseer sekere boodskappe wat via sosiale media gestuur word. Hierdie boodskappe sluit in enige boodskappe wat geweld of skade aan eiendom aanhits, iemand dreig met geweld of skade aan hul eiendom, asook enige intieme / eksplisiete boodskappe wat aangestuur word sonder die betrokke persoon se toestemming. Ander oortredings waarvoor die Wetsontwerp voorsiening maak is kuberbedrog, afpersing, die steel van intellektuele eiendom en vervalsing.

Dit maak ook verder voorsiening vir ‘n wye reeks ander misdade insluitende die onderskepping en inmenging met rekenaardata en sisteme. Dit kon nie op ‘n meer geleë tyd onderteken word nie, want sedert die aavang van Covid-19 het kuberaanvalle toegeneem, veral teen mense wat steeds van die huis af werk. Indien ‘n persoon homself skuldig maak aan enige van hierdie misdade, kan dit lei tot ‘n boete, tronkstraf tot 15 jaar of selfs albei.

Alhoewel die nuwe Wetsontwerp ons tot ‘n mate beskerm teen die kuberruim, is daar steeds ‘n onus op almal om hulleself te vergewis met wat ons op sosiale media mag stuur en plaas, en altyd twee keer te dink voor ons daardie ‘share’ of stuur knoppie druk.

 

Artikel deur Zancha Kruger – Kandidaat Prokureur

Vir enige navrae of meer inligting kontak Zancha gerus by zancha@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za

0

Related Posts

GESKILLE EN PROSEDURES IN…

GESKILLE EN PROSEDURES IN DIE WERKSPLEK – WAT OM TE DOEN Te midde van ‘n pandemie en dreigende resessie is dit nie net individue nie, maar ook werkgewers wat toevlug…
Read more

OORWEEG WAT JY PLAAS…

OORWEEG WAT JY PLAAS – LASTER IN DIE ERA VAN SOSIALE MEDIA. Die meerderheid van die publiek se aandag is nie meer gevestig op die tradisionele bronne van nuus, inligting…
Read more